Heupvuurvrae aan Zach Taljaard
Melt Myburgh
2009-04-02


Die Grahamstadse kunstenaar Zach Taljaard is vanjaar teenwoordig by die KKNK met DutchMAN, ‘n beeldhoukundige installasie. Besoekers aan die fees sal hom in die Prince Albert-gebou opspoor. Melt Myburgh het vinnig met hom gesels.

As ek so na die foto kyk, is die eerste vraag wat by my opkom, die volgende: Is jy nie bang die brandewyn-en-Coke-brigade bliksem jou op die KKNK nie? Is jy sélf deel van die installasie?

Die meeste van my werk fokus op die onophoudelike inisiasieprosesse in my reis na volwassenheid. Ek bevraagteken meestal aanvaarde manlike rolle. Van my lewenservaringe wat ek versinnebeeld, het te doen met bliksem en brandewyn - wat is party Afrikaners daarsonder? Ek was maar nog altyd ‘n lafaard en is nie fisies deel van my uitstalling nie. My werk is wel konfronterend, so enige reaksie kan verwag word.

Met DutchMAN lewer jy kommentaar op identiteit en persepsies van manlikheid. Dink jy die wit Afrikaanse man is ? bedreigde spesie?

Sekere aspekte van die Afrikaanse man moes al lankal uitgesterf het. Dit is partykeer nodig om te stroop voor enigiets nuut kan groei. Ons probeer altyd vashou aan dit wat was; partykeer het ons net beter voorbeelde nodig.

Wat is die oorsprong van die woord Dutchman?

Die woord Dutchman is maar net ‘n oorspronklike beskrywing vir die land van herkoms van ‘n spesifieke persoon. Ek het nie te diep in die oeroue wortels van die woord gedelf nie. Oorspronklik was jy ‘n Dutchman of Englishman, van Holland of Engeland. Nou is jy ‘n Dutchman van die onderdorp of Boertjie van die plaas. Ek is meer gefassineer met hoe die woord in verskillende kontekste as beskrywend, maar ook as ? kulturele vervloeking, gesien kan word, asook al die stigmas wat nou daaraan kleef.

Hoekom dié titel vir jou installasie?

Ek sinspeel op die dubbelsinnigheid, ook van my herkoms - my ma is van Nederlandse afkoms en my pa Afrikaans. Dan natuurlik die woord man en die verwagtinge wat daarmee gepaard gaan.

Watter kommentaar lewer jou installasie oor die “kulturele vervloeking en die verleentheid” waaronder diegene wat as Dutchmen gebrandmerk word, gebuk gaan?

Baie van ons dra saam aan skuldgevoelens oor die verlede - sommige sonder enige rede, vir ander is dit inherent. Dit is moeilik om dit sonder die konteks van die uitstalling te beskryf, maar daar is baie onderskrifte.

Hoe beskou jy gay-identiteit binne die Suid-Afrikaanse samelewing van vandag?

Almal probeer baie hip wees daaroor, maar dit is nog te dikwels ? kwessie wat steeds nie in die voorhuis genoem of tydens die Sondagmiddagmaal bespreek word nie.

Jy spog met ? hele rits toekennings. Sou jy graag voltyds beeldhouer wou wees? Hoe maak ? jong kunstenaar deesdae ? bestaan?

Terwyl ek aan die uitstalling gewerk het, het ek weer eens besef watter “elitist ideal” voltydse kunstenaarskap moet wees. Alhoewel dit my vorm van kommunikasie is, is dit onmoontlik om voltyds kuns te maak - nie net omdat dit finansieel onmoontlik is nie, maar omdat ek emosioneel baie betrokke raak. Ek sou myself heeltemal uitput!

In Grahamstad is jy werksaam by die Albany Museum. Die omgewing daar is seker baie stimulerend vir ? beeldhouer met ? missie?

Dit is ? omgewing wat swaar dra aan tradisie en “kultuur”, vol geraamtes in die kas (letterlik en figuurlik), ? bastion vir die mens (man) se prestasies. Dit laat my partykeer siek voel, ander kere stomgeslaan, maar tog bly dit altyd interessant.

Watter Suid-Afrikaanse kunstenaars inspireer jou?

Ek het as student vir beide Claudette Schreuders en Wim Botha as mentors gehad. Hulle werk het my beïnvloed en inspireer my nog steeds; dit is duidelik sigbaar in my werk.

Watter potensiaal het beeldhoukuns om as versoeningsmiddel in die land te dien?

Ek het altyd gedink dit is moontlik om mense te inspireer deur van beelde gebruik te maak, totdat my werk vir die Sunday Times se Heritage Project in stukke gekap is. Die beeld was van ? seuntjie op ? tuinbankie. Omdat beelde letterlik ? mens se persoonlike spasie binnedring, en dit die toeskouer se interaksie ontlok, is dit moeilik om te verwag dat almal positief daarop sal reageer, wat nog te sê versoen sal word. Daar is wel plek vir die droom van versoening deur middel van beelde; kuns moet net nie gebruik word om verkeerde ideale te “glorify” nie. Beeldhou is nog altyd verkeerdelik hiervoor gebruik.

[(http://www.argief.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=cause_dir_news_item&news_id=64127&cause_id=1270)]